<< Back
Ou Groetesmous
Peter Blum
Ou Groetesmous
Die stad word altyd nuut, 'n mens word ouer
en word 'n vreemdeling in jou eie wyk
wat om jou groei. Terwyl jy staan en kyk
word jou huis donkerder, jou straatjie nouer.
Jou gasag oor jou kinners word ook flouer:
Hulle wat eers skaars jou knieë kon bereik
staan netnou hard teenoor jou, en gelyk,
en netnou-netnou raas hul bo jou skouer.
Ons karretsjies word ook ammel ingehaal:
Daa's Abels - hy beef nou op die Laaste Skaal ...
en Fransman - hy ry voor 'n stoet sy laaste trippie.
Lyk my net Tafelberg bly wat hy was,
so't ek hom kan herken. Ja, Mies, hy skop vas
teen die wind en die weer. Hy's 'n goeie ou klippie.