<< Back
Kinderland
S.V. Petersen
Kinderland
Sou daar in my wonderwêreld
soms nog kinders kaalvoet klouter
opdraand teen die taaibosrand?
Pluk hulle bessies, skilpadbessies,
donker-rooies, bruines, géles,
nou nog in my kinderland?
Geur dit nog van peperbossies
en renoster- waar die aarde
ooplê teen die hemelrand?
Hoe verleë dool ons dikwels
mymerend deur die verre strate,
Moeg van stad en stadskoerant;
Hunkerend tussen die skare
eenling, eensaam in ons wese,
ver van huis en kinderland!