<< Back
Ek sal opstaan
W. E. G. Louw
Ek sal opstaan
Ek sal opstaan en na my vader gaan;
opstaan uit my vodde en my vuil;
opstaan en onder die volle maan
wat geel streep oor die vleiland, gaan en huil
aan sy breë skouer, en hóm saggies vra
om alles te vergeet, en te vergewe
die jongkrag van my hoon wat hy moes dra;
dat ek weer soos 'n kindjie klein die lewe
vol sonskyn voel, die vreugde van my werk
in die wingerd waar pers die swaar korrels hang;
dat ek weer voel my hande jonk en sterk,
die voorjaarskoelte saggies teen my wang –
Voorwaar, onmiddellik na my vader sal
en moet ek gaan, en aan sy voete val.