❖ Mobile Site ❖ Join Mailing list ❖ Can you translate? RSS feed

Skree Oorwinning - getuienis van Hettie Louis Brittz

Our apologies for our english readers, this testimony was originally written in Afrikaans.

 

 

Skree: “Oorwinning!”

 

 

 

'She who reconciles the ill-matched threads of her life, and weaves them gratefully into a single cloth - it's she who drives the loudmouths from the hall and clears it for a different celebration where the one guest is You.'

 RM Rilke

 

 

Die vraag of daar ooit iets goeds uit ‘n roof en verkragting sou kon voortkom, sou ek seker ‘n tyd terug met ‘n ferm “nee” geantwoord het, maar dit was voordat ek aan my lyf gevoel het wat Romeine 8:28 beteken. God werk letterlik IN alle dinge vir die beswil van hulle wat Hom liefhet en wat ‘n roeping het.

 

Natuurlik het die vyand ‘n agenda. Hy probeer kort-kort strepe deur ons roepings trek. Dis maklik om te sien watter vernietiging hy hierdeur sou wou bring. Watter beter manier is daar om ons geloof aan te val, ons vetroue in die Here se beskermende hand uit te tart, ons kinders te beskadig, dood in my liggaam te plant en daardeur ons huwelik te bedreig? Is daar ‘n beter manier om ‘n vrou se mond toe te maak en haar gees te probeer knak?

 

Maar ons is geroep, net soos elkeen van julle, en daarom neem God die pen af waarmee Satan ons storielyn probeer kaap. God is die outeur van ons lewens en as Hy skryf, kan niemand dit uitvee nie!

 

My liefdevolle Vader het nie skielike die nag van die negende Februarie ‘n pen gegryp om ‘n storie te red nie. Hy het lankal met hierdie verhaal begin. Hy het ons dae opgeteken in sy boek.

 

Ons reaksie op die roof, ontvoering en verkragting moet asseblief binne konteks gesien word. Hierdie konteks bestaan uit ons lewensverhale tot voor die gebeure, en ook uit ons verstaan van wat trauma en pyn is, sowel as uit ons lewensuitkyk. Enige ander mens sou totaal anders reageer, net omdat hy of sy ‘n ander geskiedenis, unieke verstaan van trauma en noodwending ‘n ander lewensbeskouing het. Alle koerantlesende, nuuskykende Suid-Afrikaners het’n bank opgebou vol sekondêre trauma. Dit verklaar ook baie van die hewige reaksies op ons storie. Ons storie is ‘n sneller vir pyn in ander se lewens. Ons het baie deernis daarmee.

 

Moet asseblief dus nie in hierdie getuienis uitsprake lees wat ek nie maak nie. Ek skryf nie voor hoe alle Christene moet ly of hoe ons almal die Vader moet sien en hoor nie, omdat ek nooit die arrogansie sou hê om te dink ek kan met my skoene op jou heilige grond staan nie. Ek hoop in hierdie getuienis hoor jy eerder dat die Here regtig graag met deernis wil toetree tot die seer wat jy dalk nie geweet het Hy kan genees nie.

 

Ek ken nie geweld nie. Ek was nog net intiem met een man- my eie man. Geen wit, swart of bruin persoon het al ooit vir my rede gegee om enige ras te haat nie. Ek het dus nie ‘n versameling haatgedagtes, weersin teen mans of seer verhale van verraad nie. Ek het nog nooit iemand baie naby my deur ‘n verkragting, geweldadige aanval of moord sien gaan nie. Dus is daar niks in my persoonlike geskiedenis - geen verwerping, eensaamheid, bitterheid, rassisme of groot verliese – wat met hierdie gebeure kon “resoneer” nie.

 

Trauma het ‘n eggo – dikwels vorentoe en agtertoe in tyd. Elke pynlike ervaring versterk en bevestig as’t ware wat jy reeds glo. Gestel ek is as kind gemolesteer, as vrou sonder respek behandel en oortuig daarvan dat God nie eers my naam ken nie, dan sou ‘n verkragting maar net my lae waarde by God en mense bevestig het en ek sou lewenslank in die eggo daarvan kon voortlewe. Met ‘n geskiedenis soos myne is dit egter nie ‘n logiese uitkoms nie! Ek het ‘n bank vol bufferwaarhede wat opgebou is uit ervarings van liefde, koestering, beskerming en die Here se getrouheid. Louis en ek het die Here leer vertrou oor meer as 15 jaar waarin nie een van ons twee ‘n salaris ontvang het nie en waarin ons verskeie wonderwerke van sy genade met ons eie oë gesien het.

 

Terug by ons storie… Dit het seker by my geboorte al begin, selfs voor dit, maar ek kan so met die terugkyk strategiese storiemomente herken wat ek dink die konteks goed kan illustreer en relevant kan wees. Dit help dalk vir julle wat hier lees om te verstaan waarom ek volhou dat die Here ons op die gebeure van 9 Februarie en daarna voorberei het en dat Hy ons werklik gesond en heel daardeur geneem het. Dit werp dalk lig op my oortuiging dat ek nooit anders daaroor sal voel nie, ongeag hoeveel water in die see loop:

 

  • My persoonlike geskiedenis begin in ‘n koesterende huis met ‘n pa wat vir my gewys het hoe Jesus se gesig lyk en ‘n ma wat vir haar kinders haar lewe sou prysgee en dit steeds vandag sal doen. Dieselfde hande wat my voete op wintersnagte warm gevryf het, het my afgehaal van swaaie waarop ek nog wou swaai, en my geraps wanneer ek ‘n gevaar vir myself of ander was. Hulle moes my soms seermaak om dorings uit voetsole te haal, my vashou dat ek seer inspuitings kon kry en toelaat dat ek swaar gevolge dra van ander se verkeerde keuses. Die Here het op hierdie manier lankal ‘n baie belangrike waarheid op my hart geskryf: Vaders gee nie slange wanneer kinders brode vra nie, maar kinders kry soms brode wat vanuit hulle beperkte perspektief soos slange lyk of voel. Vaders weet beter. Ek besef maar al te goed hoeveel anders ek hierdie roof en verkragting sou beleef het as ek nie reeds voor die aanval ‘n lang pad van vreeslose vertroue geloop het nie. Daarom verstaan ek met deernis wanneer die van julle wat nie so ‘n aardse pappa gehad het nie, nie dieselfde as ek reageer nie. Ook wanneer mense wat nie ‘n hemelse Pa leer vertrou het nie, sukkel om te verstaan waarom ek nie vrae vra oor my Vader se liefde nie. Ek weet net.
  • Louis en ek het albei tydens ons studentejare en die eerste jare van ons huwelik aan sendingwerk en uitreike deelgeneem. In lande soos Egipte, Turkye en Bosnië het ons gesien waartoe die Here in staat is. Ons moes nederig erken dat ons maar net ‘n deel kan sien van wie God is, want sonder uitsondering het Hy ons tydens hierdie uitreike aspekte van Homself gewys wat nuut en selfs skokkend ander as ons prentjie van Hom was. In Egipte het ek byvoorbeeld gesien hoe ‘n priester vreeslik te kere gaan, “heilige water op mense spat”, kruise rondswaai terwyl kanselknapies kerse voor ikone aansteek… By sulke kerke “weet” ‘n mens mos is als vals! Maar te midde van al hierdie “verkeerde” praktyke, het ek daardie dag met my eie oë gesien hoe ‘n kwadropleeg se verskrompelde liggaam oopvou en hoe spiere aan sy skelet uitswel, totdat hy regop en goedgevorm op sy bene staan. Hy wou dadelik weet wie Jesus is. Hy was ‘n Moslem. Dit was maar net een van ‘n reeks wonderwerke wat so “op die verkeerde manier” in hierdie Koptiese kerk in Kairo plaasgevind het. Daardie dag het ek iets kosbaars geleer: God is groter as die ruimtes wat ons ooit in kerke en geloofspraktyke vir Hom sou kon skep. Selfs wanneer mense nie glo nie en selfs wanneer mense glad nie verstaan nie, bly Hy God en is daar niks wat vir Hom onmoontlik is nie. God sal altyd uit ons bokse breek. As Hy net God kon wees waar ons Hom mooi omlyn, geraam en omarm het, sou dit met ons sleg gegaan het. Ons moet ons arms van geloof om Hom slaan, maar ons moet weet dat ons hande nooit by mekaar sal kom nie. Hy is net groter as dit. Ons wydste denke sal Hom ook nooit heeltemal kan vasvat nie.
  • In 1998 het die Here ‘n interessante hoofstuk geskryf toe Hy ons ‘n gemeenskapsprojek in Pretoria-Wes laat plant het. Ons het te midde van luide protes van familie en vriende daar gaan woon tussen armer mense as wat ons ooit voor dit geken het. In die gemeenskap om ons was elke soort ellende in oormaat saam met elke soort gebrokenheid. Goeie mense het om my verskriklik swaar gekry. Hulle het laatnag bababottels in my mikrogolfoond kom warm maak wanneer hulle krag afgesny is. Ek het saam met hulle by die tiekieboks in die tou gestaan wanneer die hele straatblok se telefone summier afgesny word omdat een ou nie betaal het nie. In lelike huisies wat sleg ruik, tussen kopluise wat permanent in die meubels woon, het ek vriendinne gevind wat geestelike reuse is. Langs deurgeskuurde meubeltjies en hope handgewaste wasgoed staan hierdie vroue en jubel oor die Here se goedheid en liefde. Vrouens wat duidelik verstaan dat ‘n mens nie na jou omstandighede kyk as jy wil weet of die Here goed is nie. Daar was egter ook kinders en ouers wat ondenkbaar-desperate dinge aangevang het. ’n Ma van vyf, ‘n prostituut, het my eendag gevra watter een van haar kinders ek sou voorstel sy vir die weeshuis gee, want sy kon nie meer vir almal sorg nie. Daar het ek gesien hoeveel skade swaarkry, honger en vrees aan ‘n mens kan doen. Dit takel jou waardigheid af totdat jy jouself nie meer herken nie. Dit takel ook die beeld van God in ander mense af totdat jy hulle mensheid kan ignoreer. Dan tree jy soos ‘n dier op en hanteer ander soos diere. En waar jou gewete veronderstel is om te sit en hardop “nee” te skree, eggo daar maar net die leegheid waar al jou sensitiwiteit reeds uigehol is. Daar het die Here op ons harte geskryf: Jy wat gerief en liefde ken, kan nooit iemand wat elke dag daarsonder lewe se dade veroordeel nie. Los daardie taak vir My wat harte lees en alles weet.
  • Daar het ek saam met verkragte kindertjies leer bid voordat hulle naweek na naweek na Oupa of  Oom Sus-en-so toe moes teruggaan, waar ek en hulle geweet het wat die onafwendbare gaan wees. Die welsyn was te moeg om in te gryp. Ek sal een dogtertjie (toe 7 jaar oud) se verhaal nooit vergeet nie. ‘n Berader by my sentrum het vertel hoe hierdie dogtertjie tydens gebedsberading vir Jesus by haar in die kamer gesien staan het terwyl haar stiefpa haar vir die soveelste keer in die nag kom besoek het. Jesus het toe glo vir haar gesê dat dit nog een keer - vir die laaste keer - gaan gebeur, maar dat Hy by haar gaan wees, en dat Hy dan die stiefpa self sal wegneem. Ek onthou hoe bekommerd ek hieroor was. Wat as Jesus NIE die stiefpa wegneem nie? Wat word dan van hierdie dogtertjie se geloof? Wat as Jesus net in haar verbeelding daar was en ook nie regtig met haar gepraat het nie? Waarom het die berader haar toegelaat om met sulke valse hoop huis toe te gaan? Maar daardie naweek het presies dit gebeur: Haar stiefpa het weer gekom, maar sy het geweet Jesus is daar en sy het geweet dit is die laaste keer. Daardie Maandagmiddag by die naskoolsentrum het sy my amper onderstebo gehardloop met die nuus: ‘Hy is weg, Tannie. Niemand weet waar hy is nie.’ Drie jaar later, toe ek haar laas gesien het, was hy nog steeds spoorloos weg – vermoedelik Kaap toe of dood. Deur hierdie ervaring en al die ander ervarings in Pretoria-Wes het die Vader nog waarhede op my hart geskryf: Ek laat nie my kinders alleen nie. Veral nie wanneer die lelikste dinge gebeur nie. Die wete dat ek by hulle is, maak hulle geweldig sterk. Ek hou my beloftes, selfs al mag daardie beloftes soms vreemd op ander se ore val. Selfs kinders wat nog nie die Bybel self kan lees nie, kan My sien en my stem hoor. Ek wil praat – luister!
  • Louis en ek ken ook die Here se voorsiening vir genesing in ons eie lewens. Ek het beleef hoe die Here leuens wat ek jare lank geglo het en wat geweldige pyn in my lewe veroorsaak het, met een waarheid kom verbreek het, sodat ek heeltemal vry kon word van dinge wat nie met sielkundige behandeling of berading enigsins beter gemaak kon word nie. Ons het dit in ander se lewens ook gesien – die Waarheid wat die Here persoonlik in stukkende mense se lewens inspreek, maak hulle onmiddellik en totaal gesond. Die soeke na Jesus neem soms lank en die soeke na die waarheid ook, maar die genesing kom dan sommer vinnig. Wanneer die Here genees, genees Hy sodanig dat ons nie hoef te “cope” nie, maar waarlik in moeitevrye oorwinning kan staan. Soos totale fisieke genesing moontlik is , kan selfs die ergste emosionele trauma totaal herstel.
  • Omdat die Here alles weet, het Hy ons vooraf sterk gemaak in elke area waar hierdie aanval deur ons mure sou kon breek. Die Here het my en Louis in Des. 2008 gelei om intensioneel een aand per week opsy te sit om ons huwelik te versterk. Ons het Maandag na Maandag onwetend skatte opgegaar wat ons nou dra. Daardie beleggings in ons huwelik het ons gehelp om tydens die roof in eenheid te bid, mekaar te ondersteun en ook agterna sonder skuldgevoel mekaar se optrede in die hitte van die oomblik te aanvaar. Ons gee mekaar die voordeel van die twyfel daar waar ons nie weet of ons beter kon gedoen het nie. Ons het een in gees geword op daardie Maandagaande, wat maak dat ons een uitkyk het op die Here se karakter, een getuienis oor sy goedheid, een droom om sy koninkryk te bou en een belydenis: Hy is altyd goed. Ek onthou klokhelder hoe ons op een so ‘n Maandagaand in die bed gelê het. Ek het gesê: “My Engel, dis vir ons darem baie maklik om elke dag die Here vir sy goedheid te bedank. Kyk na ons huwelik, kyk na ons kinders, ons huis ons bedienings en ons gesondheid. Ek hoop van harte dat ons die soort geloof het wat die Here steeds sou loof al sou ons dit alles verloor. Anders dien ons Mammon – die gemaksgod.” Louis het geantwoord: “Ek hoop ook so, want wat is ‘n ongetoetste geloof werd?”
  • Ek het omtrent dieselfde tyd ‘n dringendheid beleef om by Elza Meyer, die stigter van die Turn2God-beweging “aan te meld” soos troepe by ‘n generaal vir diens aanmeld. Ek het te klein en simpel gevoel om dit te doen en twee geleenthede laat verbygaan. Ek het egter daardie warm vuur op die krop van my maag gevoel wat jy sal ken as jy al ooit geweet het dat jy weet dat jy weet die Here praat en gaan jou nie los totdat jy gehoorsaam is nie. By die derde geleentheid het die Here my kar morsdood in die parkeerarea vasgehou totdat net ek en Elza nog op die hele grote terrein van Moreleta NG Kerk in Woodlands oor was. Ek meld toe maar aan, al struikelende oor my voete en woorde. Sy het my stip in die oë gekyk en gevra: “Waarvoor staan jy voor die Here?” Ek was baie bewus van die gewig van my antwoord, maar ook seker dat dit die Here se wil was dat ek dit moes sê: “Ek staan vir die gesinne van Suid-Afrika.” My kar het daarna met die eerste probeerslag gevat en nog nooit weer soos Bileam se donkie sonder meganiese oorsaak vasgesteek nie … God laat ons nie toe om ons roeping te mis nie, al moet Hy donkies laat praat of karre laat vrek…
  • Ek het geweet dit sou ‘n geestelike oorlog afgee, want die gesinne moet by die Bose afgevat word. Dit beteken per implikasie ‘n geveg. Ek het ook geweet ek kan dit nooit alleen doen nie. In die jaar daarna het die Here egter die strategie en hulpbronne vir die ontwikkeling van ‘n ouerksapkursus en meegaande hulpmiddels voorsien. Hy het die verkope van my ouerskapboeke bo verwagting geseën en meer as 100 uitgesoekte soldate gestuur om by my bediening, Immergroen Ouerskap, opgelei te word. ’n Span leiers het opgestaan wat my help om die bediening te stuur. Hulle deel die passie vir gesinne. Hulle stry die stryd saam met my in afhanklikheid van die Here vir wysheid, krag en deurbrake in die geestelike wêreld. Ek het geleer: Dit is tyd dat gelowiges besluit waarvoor hulle staan. Die aarde en alles daarop moet vir Jesus se koninkryk opge-eis word. Ons moet gelowig vra, gelowig veg en die erfenis gelowig ontvang in die area waar ons reeds geplant is, soos die Israeliete elkeen die muur voor hulle eie huis herstel het - troffel in die een hand, swaard in die ander… Geen wonde wat ons in hierdie geveg opdoen is fataal nie en geen prys is te hoog nie. Die erfenis is ewig.
  • Terwyl my bediening uitgebou is, het die Here my ook beetgekry en ‘n hele paar dinge uitgesorteer in voorbereiding op 9 Februarie en bes moontlik op baie ander dinge wat nog kom. (Ek skryf hierdie mos maar nog steeds vanuit my beperkte perspektief!) Verkragting val ‘n mens se eer, jou liggaam, jou sekuriteit, jou grense en jou vrouwees aan. In elkeen van hierdie areas het die Here my op ‘n kursus gehad! Ek wat nooit lees nie, het in die maande voor die inbraak ‘n hele paar baie relevante boeke gelees sonder om ‘n idee te hê dat hierdie boeke my vooraf sou genees in die spesifieke areas waar die verkragting my sou kon seermaak. Die vier belangrikstes was seker “Shame off you” – oor hoe om vry te wees van skaamte en die opinies van mense (as jy die briewekolomme gelees het, sal jy verstaan hoe nodig dit was!), “SexGod” – oor ware intimiteit en die verband tussen spiritualiteit en seksualiteit (genugtig!), “Destined to reign” – oor die oorwinningslewe en wat dit beteken om heel te wees, en “Captivating” – oor die essensie van vrouwees. Al vier boeke was erg ongemaklik om te lees en ek kon voel hoe die Here dit gebruik het om my kop en binneste reg te skuif. Waarom, het ek natuurlik nie geweet nie. Omdat God alles weet, en omdat Hy ons liefhet, berei Hy ons voor vir dit wat kom, soos Jesus sy dissipels voorberei het op sy dood,  en soos Hy ons ook deur sy Woord en die Heilige Gees voorberei op sy wederkoms.
  • In Oktober verlede jaar het die Here my gewaarsku dat ek by sy voete met kom sit met ‘n nuwe erns sodat Hy my nie deur omstandighede aan sy enkels hoef vas te boei nie. Hy het ook vir ‘n vrou ‘n visioen gegee dat ek my vingers sou verbrand as ek nie by Jesus se voete bly nie. Hy het opdrag gegee dat ek my dagboek vir 2010 moet sluit en geen uitnodigings vir praatjies mag aanvaar nie. Dit moes my Maria-jaar wees. Die Heilige Gees en omstandighede in my persoonlike lewe het toe inderdaad gemaak dat ek vir die eerste keer met ‘n desperate intensiteit aan die Woord en aan Jesus as persoon begin vasklou het.  In die twee maande voor die roof het die Here begin om baie meer intens as ooit met my te praat oor hoe Hy oor my voel. Ek het sy passievolle liefde vir die eerste keer leer ken en besef Hy is te lief vir my om my met enigiemand te deel. Hy het my afgode begin uitwys en offers van my begin eis. Ek moes iets baie kosbaars aflê, maar sy trooswoorde aan my was dat ek as ek daardie offer kon bring, dit soos die olie sou wees waarmee Maria sy voete gesalf het, sodat Hy op nuwe plekke in my lewe kan loop. Elke Skrifgedeelte oor die bruid het vir my lewendig geword en my Temapsalm vir die jaar, Ps 18, se woorde was konstant in my gedagtes: In die Message-vertaling sê dit: “I love you God. You make me strong. God is bedrock under my feet, the castle in which I live, my rescuing knight… The hangman’s noose was tight at my throat, devil waters rushed over me, hell’s roaps cinched me tight, death traps barred every exit. A hostile world! … but me he caught – reached all the way from sky to sea; he pulled me out of that ocean of hate, that enemy chaos, the void in which I was drowning . They hit me when I was down, but God stuck by me. He stood me up on a wide-open field; I stood there saved – surprised to be loved!”  (Gaan lees gerus die res by http://www.biblegateway.com/passage/?search=Psalm%2018&version=MSG) Die oggend voor die aanval het Hy my gelei om my hele joernaal van 3 Desember tot 8 Februarie te hersien, en daarom was sy Woorde ingegrafeer in my gees daardie nag. As Jesus jou nooi om ‘n bietjie meer as gewoonlik by sy voete te sit, sal jy nie spyt wees as jy dit doen nie!
  • Die Sondag voor die roof het Louis ‘n Turn2God gebedsaand by ons huis voorgestel. Ons het ernstig gebid, saam met die leierskap oorlogvoering gedoen en vir mekaar vertel hoe ‘n oorlog dit vorentoe gaan wees en dat ons almal met erns die prys moet betaal.

 

Die korrekte weergawe van die gebeure kortliks:

  • Ek is die aand van die 8ste seker so 11uur bed toe en Louis was teen skuins voor 2 besig om ‘n produksie in die studio klaar te redigeer omdat hy die oggend van die 9e teen 11 uur lughawe toe moes gaan vir ‘n 3 week-lange toer na Dubai, Australië en NZ.
  • Die 4 mans het by ‘n venster ingekom wat tussen die huis en die studio oopgestaan het. Ons sekurieteitskompleks het ‘n silwerskoon rekord gehad en diefwering en alarms is nie ‘n kenmerk van die Estate nie. Vensters en deure staan maar oral oop. Sesmylspruit het egter sonder die kompleksbestuur se medewete na goeie reën die heining tussen ons en Cornwall Hill platgedruk. Dit was die ingangspunt. Die bende was volgens die polisie reeds geruime tyd in Cornwall doenig, maar net met roof sonder enige moorde, aanrandings of verkragtings. Dit was eenvoudig ‘n opportunisitese misdaad. Die ligte wat brand en die rekenaars wat van buite sigbaar was, was bes moontlik die trekpleister. As daar boonop gereiflik ‘n venster soopstaan… Ons heining in die hoek van die erf is toe geknip vir maklike toegang. Hulle het Louis oorval, sy hande met ‘n veter vasgebind en gevra hoeveel mense waar in die huis was en of ons wapens gehad het (ons het nie). Hulle het Louis toe gebring om my te kom wakker maak. My hande is toe ook agter my rug vasgebind.
  • Meer as ‘n uur lank was dit op en af, heen en weer op soek na geld, juwele, al die rekenaars en selfone (onthou ons het die Merchant platemaaskappy, Immergroen, die kinders se skool en die huis op een perseel). Dit was alles kalm maar ‘n mens is maar baie bang en bewus van die rewolwer! Ons kon deurentyd bid, maar hulle het nie daarvan gehou dat ek en Louis met mekaar praat nie.
  • Hulle het ons bo in die kamer langs die bed laat lê terwyl hulle die gesteelde goed ingepak en verder gesoek het. Een van hulle hoor toe iets in die studio piep en kom haal toe vir Louis om dit te kom afskakel. Drie is toe saam met Louis kantore toe, waarna ek hom nie weer gesien of gehoor het tot na alles verby was nie. Ek het agtergebly saam met een ou wat op die bed gesit en sakke oop en toe zip het. Ek was halflyf onder die bed sodat hulle kon weet ek sien niemand nie en is skadeloos. Dit was toe dat ek net baie helder in my gedagtes gehoor het dat die Here my herinner dat ek sy bruid is. Ek het toe besef wat gaan gebeur. Ek het beleef dat die Here my belowe dat ek nie gaan seerkry nie en dat Hy my gees en siel sal vashou.
  • Ek was kalm en het inderdaad geen pyn beleef nie, kon helder dink en selfs bid. Die jong man was baie haastig en bang om betrap te word en het probeer om bewyse te verdoesel. Hy het my mooi “teruggesit” waar ek was en my klere ewe ordentlik reggetrek. Intussen het die ander rowers saam met Louis die kantoorrekenaars in Louis se kar gepak.
  • Die Here se liefde was oorweldigend en amper tasbaar. Ek was nie net bewus van sy liefde vir my nie, maar ook van sy liefde vir hierdie jong man wat met soveel vrees en verwoesting lewe. Ek het gewonder hoe hy grootgeword het en wat alles met hom gebeur het om hom tot sulke desperate keuses te bring. Ek was natuurlik baie bekommerd oor seksueel oordraagbare siektes en was haastig dat almal moes padgee sodat ek hospitaal toe kon gaan.
  • Die jong man het by die ander aangesluit en my alleen gelos. Nie lank nie, of twee bendelede het opgestorm in die kamer in en my kom bevoel omdat hulle seker vermoed het wat gebeur het. Die bendeleier was vies en het gevra of ek OK is. Ook hy het my klere reggetrek. Hulle het weer uitgestorm. ‘n Paar minute later het een van hulle my kom haal en toe het daar op die trappe ‘n onderonsie uitgebreek wat ek nie kon verstaan nie – seker in Sotho. Die leier het ferm gesê: “No, we are not doing that. Put her on the floor, make her sleep.” Die man het my toe teruggesit onder die bed. Daarna het die bendeleier nog ‘n keer kom vra of ek OK is. Ek het die ouens ‘n rukkie later met ons kar hoor wegry. Ek het besef dat hy hulle Louis waarskynlik nodig gehad het om by die sekuriteitshek uit te kom…
  • Ek het gebid dat die Here my sal wys wanneer dit veilig was om op te staan en te probeer loskom om te kyk of die kinders ongedeerd is en of Louis inderdaad weg is, en natuurlik om die polisie te bel. Ek het seker so ‘n kwartier gewag om seker te maak almal is weg, my hande maklik kon loskry en baie verlig al drie die kinders vas aan die slaap in hulle beddens gekry. Ek het saggies onder in die huis geroep, maar Louis het soos ek verwag het, nie geantwoord nie en ek het die polisie en hospitaal gebel om te hoor wat ek moes doen.
  • Oppad na die bure oor die straat, het ek Louis in die pad sien aankom. Hy is op die pad tussen die Estate en Tembisa afgelaai, nadat hy oortuig was dat hulle hom in die donker veld sou skiet. Hy het deurentyd gebid en ook teenoor hulle getuig. Op ‘n mooi oomblik het een van hulle gesê: “Yes, we know you are Christian. Stop the car. Get out!” Louis het dankbaar uitgeklim, maar ‘n geweerskoot afgewag totdat hy baie verlig die kar hoor wegjaag het. Hy het teruggehardloop, wetende dat ons baie bekommerd moes wees. Daar is natuurlik nie woorde om daardie verligting te beskryf toe ek hom aangestap sien kom het nie. Al wat ek kon uitkry, was “Jy lewe! Dis al wat ek vra. Jy lewe!”
  • Die polisie was 5 minute later op die toneel. Dit was toe so 4.30 in die oggend. Ek het hom vertel dat ek hospitaal toe moet gaan maar dat ek nie seergemaak of hardhandig hanteer is nie. Hy was baie kalm en het gesê: “Ek sal dalk later anders voel, maar nou gaan ek net kalm bly sodat ons die regte ding kan doen.” Ons het die bure gaan wakker maak sodat my buurvrou my hospitaal toe kon neem vir die forensiese ondersoek en “krisismedikasie” – ‘n proses van amper sewe uur! By die hospitaal het selgroepvriende met gelaaide selfoon en allerhande ander gawe aanbiedinge opgedaag. ‘n Paar mans van die selgroep het ook vir Louis kom ondersteun. Louis het gebly om die polisieverklarings te maak en om die kinders te “brief” wanneer hulle wakker word – wat eers 7 uur se kant was! Hulle het net geweet dat rekenaars en selfone saam met pappa se kar gesteel is en dat mamma met die polisie praat by die hospitaal omdat sy baie groot geskrik het. Daar sou nou baie geraas word met die installering van ‘n alarm en die polisie sou orals soek na vingerafdrukke ensomeer en daarom gaan hulle liewer by Oupa en Ouma in die Bosveld kuier. Hulle was baie tevrede met die skielike midweekvakansietjie en is vrolik saam met my geskokte ouers Leeupoort toe tot die Vrydag.
  • Die twee dae daarna was ‘n warboel van besoekers, ruikers en oproepe. Louis moes inderhaas reisplanne laat wysig, ‘n nuwe foon en rekenaar kry sodat hy sy orkes kon volg wat toe reeds Dubai toe gevlieg het. Ek het Tharina, my liewe vriendin en assistent ge”brief” oor hoe om die oproepe te hanteer en tussendeur koerante en tydskrifte probeer afweer. Dit was egter ons keuse om met Neels Jackson te praat nadat ons die Woensdagoggend se lelike berig gesien het. Daardie eerste berig was gebaseer op inligting wat ‘n informant in die polisie na ‘n 702-omroeper uitgelek het, wat sy op haar beurt aan die Beeld gestuur het. (Terloops, ek en sy is na ‘n lekker stywe gesprekkie nou goeie vriende!) Ons was baie tevrede met hoe getrou Neels by die feite gebly het wat ons aan hom oorgedra het.
  • Donderdag (twee dae na die roof) het die Here ‘n vrou gestuur om ons beddegoed en handdoeke met spierwit nuwes te vervang. Sy het nie eers my “bruidsgetuienis” gehoor nie. Die Here het net vir haar @Home se logo gewys en gesê dat alles wit moet wees en “fit for a queen”. Sy het toe alles in Queen size gekoop, wat perfek op ons bed pas! Die wit handdoeke het toe sowaar fyn geborduurde silwer krone op… Sy het onwetend die twee bosse blomme onder uit die huis kom uitkies wat presies soos die blomme wat op ons troue was lyk, en dit op die bedkassies gesit, met ons troualbum op die bed. Dit was so ‘n wonderlike bevestiging van wat ek reeds beleef het – die Here het my silwerskoon en spierwit gereining en dit het nie saak gemaak dat ek daardie nag sonder my man moes bed toe gaan nie, want Jesus was so duidelik daar.
  • Dieselfde aand was ek by ons selgroep en het die Here so duidelik vir my hierdie profetiese woord gegee: ‘You don’t get to lay down palm branches on the ground for an earthly king to ride into the city on a donkey, you get to lay down your very lives so that the King of Glory can enter the city on the back of his martyrs. He will come in a glory you have not seen, but before He comes there will be a lot more blood.’ Die Here het ook daardie aand ‘n kennis van my ma se naam op my hart gedruk met die opdrag om vir haar te vertel dat Jesus “dieselfde vir haar gedoen het, al het sy dit nie besef nie.” Ek het gedink hoe belaglik dit sou klink om so ‘n boodskap aan iemand oor te dra wat my ma kon gewees het en van wie ek amper niks weet nie… My ma het egter die volgende dag bevestig dat die vriendin as kind verkrag is. Ek het net besef dat die Here soveel stukkende vrouens wil heelmaak! Vrouens wat nie besef dat Jesus ook by hulle was en is nie, vrouens wat nie weet dat Hy hulle kan en wil aanraak nie, vrouens wat moet weet dat Hy ALLE vrees kan wegneem en hulle kan vul met krag, liefde en selfbeheersing (a sound mind).
  • ‘n Bevryder/berader en mentor van my het ook kort na die aanval seker gemaak dat alle bloedlynvloeke afgesny word wat deur seksuele kontak en die gevolglike sielsband (soul tie) oorgedra sou kon wees. Dis belangrik om te verstaan dat alle seks ‘n verbond sluit en mense geestelik een maak. Selfs verkragtig veroorsaak so ‘n brug. Wanneer daardie verbond buite die huwelik gesluit word, word ‘n gees van wellus oorgedra wat by die naam weggejaag moet word. Het jy al gesien hoe losbandig slagoffers van seksuele misbruik kan word? Dit is hierdie gees van wellus wat so maak, tensy hy in die Naam van Jesus verbied en gebind word.

 

 

Ek glo in ‘n God wat groter is as my insig, daarom dat Hy GOD is. Ek weier om iemand te aanbid wat nie verder as ek kan sien, dieper as ek kan verstaan en meer kan doen as wat ek ooit kan droom of dink nie. Dis my lewensuitkyk - hierdie lewe is tydelik, God is ewig. Ons sogenaamde realiteit kan net vanuit God se perspektief regtig verstaan word. Lewis het gese Hy glo in God soos in die sonsopkoms - nie omdat hy die sonsopkoms kan sien nie, maar omdat hy in die lig daarvan alle ander dinge kan sien! Ek kyk na my lewe in die lig van ‘n hemelse werklikheid waarvan ons wel nooit baie sal verstaan nie, maar wat nietemin die bepalende realiteit is.

 

Mense in my lewe wat vir my baie kosbaar is, het ook vooraf en selfs terwyl ek by die hospitaal was, en niemand nog geweet het wat gebeur het nie, vir my bemoedigende profetiese boodskappe gestuur. Een vrou het tydens ‘n telefoongesprek vertel dat sy gedroom het ek hardloop met ‘n lang, wit wapperende vlag, en oral waar ek hardloop word mense vry. Ek beleef dit nou amper daagliks. Baie vrouens is reeds vry.

 

Ek het die middag voor die aanval saam met ‘n vriendin gaan eet en ons het oor diep dinge gepraat, onder andere oor trauma en genesing. Sy het my die aand gesoek omdat sy besorgd oor my was, maar ek het haar SMS’e nie te ernstig opgeneem nie en net laat weet dat sy nie moet bekommer nie- ek is regtig OK! Nog steeds baie onrustig het sy in die nag (tydens die aanval met ander woorde) vir my ingetree en my die volgende oggend probeer kontak, wat natuurlik nie wou werk met die gesteelde foon-situasie nie! Later het sy toe maar sommer op Facebook hierdie boodskappie gestuur, enkele ure voordat sy uitgevind het wat met my gebeur het:

 

Hallo Hettie, Soek al heel oggend na jou. Het smse oral gelos. Hoop jy is ok. Baie dankie vir gister weereens. Ek het gisteraand so baie aan jou gedink. Ek hoop jy is regtig ok. Voel so lief vir jou vandag en ek wil net se dat jy vreeslik spesiaal is. Mag jy altyd weet dat jy geroep is vir baie groot geestelike dinge. Mag jy die toets deurstaan.. Jou testimony kom met n prys maar jy gaan groot mure, walle, hekke en borders in die gees afbreek. Besef jy is besig, sal weer met jou praat. Ek voel dat jy in die toekoms nie net taal en religious barriers gaan penetrate nie maar ook racial barriers. Mag jou boodskap lewe bring in ons land met sy vele strongholds. Sien n nuwe rigting vir jou. As vrou tot vrou - groot skares - vreeslike intense boodskap - Lief vi jou, V.

 

As ‘n mens soiets lees na wat met my gebeur het, kom Amos 3:3 by my op- die Here doen niks voordat Hy sy profete ingelig het nie. Hierdie vriendin van my het reeds geweet en natuurlik troos dit my om te weet, want dit beteken dat die Here gereed gestaan het om hierdie seer ding vir altyd ten beste om te keer soos Rom 8:28 belowe. – Die Here werk in alle dinge vir ons voordeel- vir ons wat Hom liefhet en volgens sy wil geroep is.

 

Daardie nag het die Here ook vriende van ons se twaalfjarige dogter wakker gemaak om vir ons te bid en ‘n bepaalde Skrifgedeelte oor Aaron en die priesters vir Louis te stuur. Dit praat van ‘n nuwe salwing. Louis het inderdaad ten spyte van min slaap en “jet lag” die mees geseende toer van sy lewe beleef, met nuwe salwing en kragtige, bevrydende bediening aan mense wat juis grotendeels oor geweld Suid-Afrika verlaat het. Die getuienisse na die toer het bevestig dat ons die regte, alhoewel baie ongewilde en onlogiese, besluit geneem het dat Louis twee dae na die roof op die toer moes vertrek soos beplan. Ons jubel oor die mislukte poging van die satan om die stuk bediening te voorkom!

 

Alles wat na my toe kom, kom deur die kruis van Jesus. Alles is gefilter deur sy genade. Daar is aan die kruis gelyktydig voorsiening gemaak vir die rowers se vergifnis en vir my genesing. Alles is betaal. Een van die Spurgeon-dagstukkies wat ek kort voor die roof gelees het, bevestig dat die gal en asyn wat vir ons in hierdie lewe afgemeet is, altyd op die druppel afgemeet is om te verseker dat ons dit kan drink. Jesus se werk aan die kruis was nie ‘n poging om sonde, skuld, skande, seer, verlatenheid en siekte effens te verlig nie – dit is volbring!

 

Ek het ook nie geweet dat dit moontlik is om so op trauma te reageer nie, hoor! Ek was gou om te sê dat ek nie ‘n verkragting sou wou oorleef nie. Ons het ook altyd die voorneme gehad dat ons die land onmiddellik sou verlaat as ons ooit in ons eie huis oorval sou word. Maar die Here se teenwoordigheid by my daardie nag, was nie iets wat ek vantevore beleef het nie. Sy stem so duidelik in my ore ook nie!

 

 

Ek was meer oor my ouers en my kinders bekommerd as oor myself, maar kan net kortliks getuig dat Dr Marietjie Yssel “toevallig” die Vrydag toe my kinders teruggekom het van die Bosveld af, beskikaar was om hulle te “debrief’. Sy is ‘n kenner op die gebied van kindertrauma en het my en hulle mooi “deurgekyk!” Sy het skitterende raad gegee (kyk gerus uit vir die artikel daaroor op die www.voelgoed.co.za-website) en soos daardie artikel vertel, het die Here regtig ook op besondere maniere voorsien dat ons kinders sonder trauma of vrees hierdeur is.

 

My ouers het baie swaar gekry, veral as gevolg van die publieke en blootstellende aard van die gedoente. My ma het genoem dat dit voel asof haar lewer lewendig uitgesny is. Hulle is egter, soos ons, deur duisende gebede gedra. My pa het op die onwaarskynlikste manier berusting gevind: ‘n Vriendin van my ouers wou ‘n simpatieboodskap SMS toe sy iets vreemds ontdek. Sy laat weet toe my pa dat hy met teksvoorspelling (daardie funksie op ‘n selfoon wanneer die foon self raai watter woord jy probeer tik, sodat jy elke sleutel net een keer hoef te druk) net my naam, Hettie, moet insleutel. As jy Afrikaanse teksvoorspelling op jou foon het, sal jy sien, die woord wat uitkom as jy elke sleutel een keer druk, is “getuie”. So het my pa besef dat stilbly nie nou meer ‘n opsie was nie en dat dit die Here se wil was om sy Naam op voorblaaie en in briewekolomme groot te maak. Ek moet sy getuie wees.

 

Louis en ek het nie gedink dit sou moontlik wees om die intieme sy van ons huwelik onmiddellik na sy terugkeer van oorsee af te hervat nie. Ek het ‘n angsaanval of weersin of iets dergliks verwag, nie omdat ek regtig gedink het dit gaan gebeur nie, maar omdat die kenners my oortuig het dat dit onafwendbaar sou wees, maar in plaas daarvan het ek veiligheid en koestering beleef, sonder enige skaamte of ongemak. Ek kon ook in Louis se optrede sien dat die Here hom op ‘n besondere manier aangeraak het.

 

Ook in die naweek na die aanval, toe ek die Midmarmyl gaan swem het, was die Here se hand so duidelik sigbaar. Ek het die Saterdag geweldig swaar gebloei, wat die ginekoloog nie aan die hand van die feitestel of medikasie kon verklaar nie. Die plattelandse apteek sou ook nie die medikasie aanhou wat dalk kon help nie. Ek het Elza en haar gebedsgroep gebel en hulle het vir my ingetree en profetiese Woord gegee oor wat dit sou beteken. Ek was baie onseker of ek die krag sou kon vind om te swem, want ek kon natuurlik nie oefen in die week voor die myl nie en die verlore slaap van daardie nag was nog nie behoorlik ingehaal nie! Ek het ook nie geweet of die bloeding sou stop nie en het vermoed dat ek baie krag so verloor. Ek het die hele Saterdag langs die dam geloop en bid en getuig teenoor diegene wat op my Turn2God T-hempie gereageer het… en toe in geloof my swempet en resiesnommer gaan afhaal. Oppad terug na ons chalet het ek Jesus in dieselfde innerlike stem van daardie nag hoor vra: “Kom jy more saam met My swem, meisie?” Ek het gevoel soos ‘n tiener wat na ‘n dans genooi word en besef dat dit nogal die volgende dag Valentynsdag is. Ek het nog nooit so lekker geswem nie!

 

Dis nie net mense om my wat troos en bemoediging uit ons getuienis put nie- ons self het baie wins gemaak hieruit. Ek het alle vrees verloor vir geweld, dood en eensaamheid, want ek het intens beleef hoe geen dood my van sy liefde kan skei nie! Dis nie meer ‘n mooi liedjie of gememoriseerde Bybelversie nie – dis nou my lewensuitkyk. Ek gaan laatnag met vriende kuier en kom soms in stikdonker alleen by my huis aan, sit die sleutel sonder bewerasies in die slot, en slaap dan rustig op Vader se skoot, want Jesus is werklik by my. Oom Angus se^ graag : “Jesus is more real to me than you standing there”. Ek verstaan dit nou. Jesus is  nou en sal altyd vir my ‘n groter werklikheid wees as ‘n aanvaller, ‘n rewolwer of ‘n doodsdreigement. Dis omdat hulle Jesus in die vuuroond by hulle gehad het, dat Sadrag, Mesag en Abednego nie na rook geruik het nie. Ek ruik nie na verkragting nie, Louis ruik nie na doodsdreigemente nie, want ons het Jesus gesien. Deur sy genade het ons in ons donkerste oomblik na Hom toe gedraai. Psalm 18 se woorde kom weer by my op, soos dit in vers 30 sê: What a God! His road stretches straight and smooth. Every God-direction is road-tested. Everyone who runs toward him makes it.

 

Ons kan nie nalaat om die geweldige krag van gebed te onderstreep nie. Hoeveel anders sou ons storie en getuienis dalk gewees het, as die kragtige gebede van gelowiges nie in die prentjie was nie! Wie weet of gebede nie dalk selfs buite tyd staan nie? Die Here kon die duisende gebede wat na die aanval opgegaan het seker in die hemel bymekaargemaak het en enige plek in tyd ontplooi? Dis sommer iets waaroor ek wonder... Ek weet egter ook dat daar gelowiges is wat al jare lank vir ons bid. Hulle gebede was verseker reeds in die troonkamer. My ouers bid my hele lewe lank vir my en vandat ek getroud is en kindertjies het ook vir Louis, Idalise, Pero en Simone – elke dag, by die naam. Dit maak ‘n baie groot verskil!

 

Ons littekens sit, soos my vriendin Idalette sê, aan die buitekant soos rangstrepe, nie aan die binnekant nie. Dit gee ons die voorreg om te mag praat met ander stukkendes. Ek kan nooit die gebeure goedpraat nie, maar ek sal dit eerlikwaar nooit kan wegwens nie, want ek het daarin die grootste skat van my lewe ontdek – ‘n skat in hemelse plekke – ‘n vreeslose vertroue in ‘n Vader wat my beswil op die hart het, en ‘n gelouterde liefde vir my Ridder – Jesus – wat op die wit perd kom.  

 

 


By: email

Help us to be 'seen' on the internet