❖ Mobile Site ❖ Join Mailing list ❖ Can you translate? RSS feed

Lubbe familie getuienis


Lubbe familie wat in kar ongeluk was
Baie kinders wat ’n naby-doodse ervaring het, sien engele. Dis verstommend hoeveel kinders se ervarings ooreenstem! Hierdie verhaal sal jou opnuut opgewonde maak oor die hemel ...

Die aand van 3 April 2007 was Gerhard en Madeleine Lubbe en hulle seuns, Graeme (10) en Jacques (8), op pad terug huis toe na ’n vakansie in Hartenbos. Dit was ook die aand wat alles vir hulle vir altyd sou verander.

“Ongeveer 14 kilometer buite Winburg het die ongeluk gebeur”, vertel Madeleine. “’n Vragmotor het sy wiel verloor, en dit het die motor agter die vragmotor getref. Daarna het die wiel soos ’n missiel reg van voor deur die voorruit van ons bakkie geskiet.
“Ek sal nooit die uitdrukking van skok en ongeloof op Gerhard se gesig vergeet toe hy homself voor die wiel ingooi nie. Dit het hom vol in sy gesig en bors getref. Hy is gevolglik gedeeltelik onthoof en vergruis.

“Die impak het sy sitplek na links agteroor gebuig sodat hy met sy kop op Jacques beland het. Iets het Jacques ook oor sy voorkop gesny. Dit het hewig gebloei. Bloed het oor sy gesig en oë gestroom. Jacques het vreeslik geskree en toe skielik stil geraak,” onthou Madeleine.

Na die ongeluk was alles vreeslik deurmekaar, en hulle is daarna per ambulans na die Medi-Kliniek in Welkom geneem.

Dis wat ek gesien het Mamma!
“Ongeveer twee weke na die ongeluk het Jacques my gevra of alles daardie aand regtig gebeur het,” vertel Madeleine. “Ek het dit bevestig, en toe vertel hy vir my wat hy die aand van die ongeluk beleef het.”

Klein Jacques vertel self verder: “Ek het die aand van die ongeluk al geweet my pa is dood. Hy het met sy kop op my skoot geval en wat ek gesien het, was nie mooi nie. Toe ek aan Pappa se kop vat, het dit baie sag gevoel. Ek het net geskreeu: “Jesus help my! Jesus help my!” Skielik het ek ’n lig in die veld gesien. Die lig het nader gekom en al groter en groter geword. Toe die lig langs die kar kom, het ek gesien dit is Pappa. Hy het soos altyd gelyk, net soos ons hom geken het, maar sonder stukkende plekke. Sy vel was anders, deursigtig, soos lig. Hy het ander klere gedra, klere wat ’n mens nie hier kry nie. Dis die mooiste kleure en klere wat ek nog ooit gesien het. Sy oë was nog steeds groen soos ons hom ken. Dit was net baie blink.
“Pappa was tevrede dat ons oukei was. Hy het langs my kom sit en gesê ek moenie worry nie. Hy is in die hemel. Pappa het ook voor Mamma gaan staan en vir haar gesê sy moenie bekommerd wees nie. Haar arm gaan weer regkom. (Madeleine se arm was so lelik gebreek dat die been deur die vel gesteek het.) Mamma het vir hom gesê hy moenie weggaan nie, hy moet nog by ons bly, maar hy het gesê sy tyd op aarde is verby, hy kan nie meer bly nie. Mamma het toe aan Pappa se bene gevat, maar hy het gesê dis nie meer sy lyf nie.”

Van skok het Madeleine aanvanklik vergeet wat gebeur het, maar toe Jacques daarvan praat, kon sy dit weer onthou.

Jacques vertel verder: “Daar was baie engele saam met Pappa. Hulle het hande vasgehou en rondom die kar gestaan. Die engele het anders gelyk as wat ek altyd gedink het – hulle was lank en groot en het nie vlerke gehad nie. Hulle klere was blink soos goud en het op die grond gehang; ook die gordels om hulle middels het tot op die grond gehang. Hul oë was blou en het soos lig geskyn.

“Daar was ’n leier-engel, en hy was die langste van almal. Hy het eers met Pappa gepraat en vir hom gesê: ‘Ons het julle beskerm.’ Toe het hy na my gedraai en gesê: ‘Julle moenie bang wees nie. God gaan van nou af na julle kyk.’ Die engele het die hele tyd by ons gestaan – selfs toe die mense ons uit die bakkie gehaal het, het hulle daar gebly. Hulle het eers weggegaan toe die ambulans met ons vertrek het. Pappa het eerste weggegaan, toe die leier-engel en toe die ander. Die laaste wat ek onthou, is Pappa se gesig wat in die wolke verdwyn. Daar waar hy en die engele gestaan het, het dit soos ’n fantasiewêreld gelyk. Dit was vreeslik mooi. Dis ’n plek waarheen ek graag eendag sal wil gaan. Die engele was ook baie mooi, maar Pappa was die mooiste van almal. Ek onthou sy oë – dit was so blink!”

Madeleine vertel dat Jacques se oë toegeswel was vanweë sy beserings. Boonop het bloed uit die wond aan sy voorkop oor sy oë gevloei. Maar toe hy Jesus in sy benoudheid aangeroep het, het God sy geestesoë geopen sodat hy kon sien wat hy gesien het.

Hoop met ’n traan
Graeme was onbewus van alles wat sy boetie gesien het. Hy het geen beserings opgedoen nie, maar was baie geskok. Die ambulansbestuurder sê die seun het hom in trane gehad, omdat hy heelpad roerend vir sy pa gebid het.

Alles was verskriklik traumaties vir die gesin, maar hulle is dankbaar dat hulle soveel berusting gekry het nadat Jacques sy ervaring met hulle gedeel het.

“Ons prys die Here elke dag. ’n Mens kan dit noem wat jy wil, maar ek weet verseker Jesus leef, God leef en Hy beheer ons lewe. Gerhard was geseën met soveel talente – maar ek vra nie meer vrae nie. Ek weet hy is tuis! Hy het sy lewe op aarde voluit geleef en hy het die Here met soveel entoesiasme gedien. Ons gaan almal saam juig daar in die hemel!” sluit Madeleine af.

testimony

By:

Help us to be 'seen' on the internet